Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 11 SEPTEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutels van die volgende radioamateurs stil geraak het. Hulle is:

Charlie Stevens, ZS1AWG, lid van die Suid-Kaap Amateurradioklub op Donderdag 18 Augustus 2011 in George op 81 jarige ouderdom.

Dennis Hugo, ZS1UV, (ex ZS6 US) lid van die Garden Route radioklub op 5 September op 87 jarige ouderdom. Dennis was van 1948 ononderbroke lid van die SARL.

Ons innige simpatie gaan aan die familie en vriende van die oorledenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL-OKOSA-VERGADERING

E-POSNUUSBRIEF

SPESIALE RUGBY WęRELDBEKERROEPSEINE UIT DIE SUIDE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-OKOSA-VERGADERING

’n Afvaardiging van die SARL het verlede Donderdag met die personeel van spektrumbeheer van OKOSA ’n vergadering gehou en verskeie regulatoriese sake bespreek. Die SARL was verteenwoordig deur Colin de Villiers, Francois Botha en Hans van de Groenendaal.

OKOSA het van hulle beoogde verbeterings aan die regulasies aan die vergadering meegedeel, insluitende die regstelling aan die ouderdom vir ’n Klas B lisensie en die tabel van amateurfrekwensies. Die kwessie van ontvangers met deurlopende instemming was goed bespreek en daar is besluit dat OKOSA weer die betrokke regulasie onder oë sal neem. Verskeie voorstelle is ter tafel gelę. Die SARL sal OKOSA weer hierdie week spreek in ’n poging om die kwessie te finaliseer. Die SARL het versoek dat dit genotuleer word dat OKOSA nie die bestaande reël sal afdwing nie en dat geen stappe teen radioamateurs gedoen sal word tot tyd en wyl die kwessie uitgeklaar is nie. OKOSA het saamgestem.

Dit is ooreengekom dat die SARL ’n tweedaagse werkswinkel vir spektrumbeheerpersoneel en lede van ander departemente van OKOSA sal aanbied. Die doelwit is om ’n beter begrip aangaande amateurradio en sy bydrae tot ingenieurswese en tegnologie in Suid-Afrika te ontwikkel. Tydens die werkswinkel sal die idee van ’n gevorderde lisensie met addisionele voordele bespreek en die pad vorentoe ontwikkel word. Middel tot einde Februarie 2012 is as ’n moontlike tydgleuf vir die werkswinkel genoem.

Die kwessie van lisensiëring tussen SAOG-lande is bespreek. ‘n Dokument vir bespreking by die volgende vergadering van CRASA, die ” Communications Regulators Association of Southern Africa”, sal deur OKOSA voorberei word. Die SARL het aan die hand gedoen dat as n tussentydse reeling, OKOSA sal toelaat dat besoekers uit SAOG-lande, wat in hulle eie lande gelisensieer is, toegelaat word om in Suid-Afrika uit te saai.

Die kwessie van n nuwe toekenning in die 5 MHz band is bespreek en OKOSA het onderneem om ‘n staatskoerant te formuleer waarin publieke kommentaar oor die voorstel aangevra word.

Item 1.23 op die agenda van WRC12, waarin toekennings in die omgewing van 500 kHz aangevra word, is bespreek. Aangesien Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, die SARL-verteenwoordiger op die DOC WRC12 se industriële komitee en rapporteur vir agenda-item 1.23 is, sal hy die Suid-Afrikaanse standpunt, soos tydens ’n onlangse DOC/Industrie-vergadering aanvaar, aanpas/aanvul/bywerk en dit met OKOSA deel vir oorweging vir ’n tussentydse ad hoc Suid-Afrikaanse toekenning.

Colin de Villiers het die verbetering aan die OKOSA-databasis bespreek. ’n Vorderingsverslag sal geurende Oktober met die SARL gedeel word.

Daar was ook bespreking aangaande veranderings aan die finansiële stelsels om meer akkurate boekhouding van lisensiebetalings te verseker.

Die volgende vergadering sal op 8 Desember plaasvind.

SARL LIDMAATSKAP OORSKRY 1 200

Die ledetal van die SARL het hierdie week die 1 200-merk verbygesteek en Vrydag op 1 210 gestaan. Indië u nognie hernu het nie, daar is nog ’n paar dae oor voordat u lidvoordele tot ’n einde sal kom. Betaal per tjek, bankdeposito of elektroniese oorplasing. Besonderhede verskyn op u rekening of skakel Mariska by 011 675 2393.

E-POSNUUSBRIEF

Ten einde lede meer gereeld ingelig te hou, sal ’n nuusbrief op ’n gereelde basis na lede gestuur word. Verseker asb. dat u e-posadres reg is op die SARL se databasis. Indien u teen Maandag nognie die eerste uitgawe van die “SARL UPDATE” ontvang het nie, stuur asb. ’n e-pos aan admin@sarl.org.za met insluiting van u e-posadres. “SARL UPDATE” sal per e-pos en op die web slegs aan lede beskikbaar wees.

SPESIALE RUGBY WęRELDBEKERROEPSEINE UIT DIE SUIDE

Wanner u op die lug is hou u ore oop vir Nu Zeelandse radioamateurs wat i.p.v. die ZL-voorvoegsels ZM as voorvoegsel gedurende September en Oktober gebruik. Dit is ter viering van die Rugby Węreldbekertoernooi wat van 9 September tot 23 Oktober plaasvind.

Luister ook uit vir twee spesiale geleentheidstasies ook ter viering van die spesiale geleentheid. Die eerste een gebruik ZL4RUGBY as roepsein. Dit sal tot 31 Oktober op die lug wees. QSL VIA zl4pw.

Die tweede stasie is ZL6RWC. Dit sal deur verskillende lede van die Papakura Radio Club tot 31 Oktober bedryf word. QSL asb aan ZL6RWC via ZL1VK, direk, of via die boru of via Logbook of the World.

JAARLIKSE “JAMBOREE-ON-THE-AIR”

Dave Gemmell, ZS6AAW, die SA Nasionale JOTA koördineerder nooi alle belangstellende radioamateurs en klubs uit om met met dié jaar se JOTA wat op 15 en 16 Oktober plaasvind, te help.

Moenie wag totdat die jongmense u te vra nie!

Enige amateur mag met JOTA/JOTI-stasies kontak maak maar dit sal beter wees indien Girl Guides en/of Scouts ook daarheen uitgenooi kan word maar heel beste is om ’n stasie by ’n klubsaal op te rig en die Guides en Scouts byvoorbeeld met die oprigting van verskillende tipes antennas te betrek. Demonstreer ook verskillende modusse soos GG, ESB en moontlik digitaal. Die moeite wat gedoen word behoort nie meer te wees as tydens klubbyeenkomste nie en die jongmense sal dit waardeer en ’n beter begrip aangaande amateurradio verkry.

Sorg asseblief dat u stasie as ’n opvoedkundige stasie by die SARL-kantoor geregistreer is sodat ongelisensieerdes op die amateurbande mag praat.

Die volgende is webadresse waar meer inligting ten opsigte van die JOTA- en JOTI-aangeleenthede verkry kan word:

www.scout.org - internasionale inligting.
www.jota.sub.cc - net JOTA-inligting.
www.joti.org - net JOTI=inligting.

HF VOORTPLANTINGS VOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat Sonvlek 1 283 intense sonfakkels produseer. Die sonfakkels is selfs met 'n beskeie teleskoop en die nodige filters sigbaar. Die sonvlek het 'n komplekse magneetveld wat genoeg energie besit om X-klas fakkels te produseer. Sonvlek 1 289 is besig om te groei maar is magneties baie eenvoudiger. Dinge kan egter verander en dit gaan 'n interessante week wees! Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week minder as 50.

20 tot 15 m kan goeie DX-resultate oplewer en daar kan selfs 10 m openinge wees as gevolg van die verhoogde sonaktiwiteit.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Beginnende vandag – Maak ’n geldelike bydrae aan die 7P8EME DXpedisie wat van 14 tot 26 September plaasvind.
15 September – Laaste dag vir ‘n hoë resolusie foto van die deelnemer geneem tydens die JVT se jeugsnelkompetisie aan saardt@intekom.co.za.
18 September - Laaste dag vir insending van logstate vir die JVT se jeugsnelkompetisie. Daar het nog min state ingekom, stuur dus u logstaat so spoedig moontlik.
23 September – Neem jou handdraagstel vandag saam werktoe.
24 September – RTA in Gauteng.
25 September – Integnet om 19:30.
15/16 Oktober – “Jamboree on the air”.
Tot 31 Oktober – ZL-stasies met ZM-voorvoegsels en ZL4RUGBY en ZL6RWC op die lug.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003